'n Geseënde Leeftyd
My ma verjaar vandag. Sy
is ses en negentig jaar oud.
Verskeie mense het die
aanmerking gemaak dat sy geseënd is om so ‘n hoë ouderdom te bereik. Ek
antwoord nie op hierdie stelling nie, want hoe bepaal ‘n mens die geseëndheid
van ‘n lewe wat reeds lankal verby en meesal vergete is?
My ma weet nie eens dat
sy verjaar nie, hoewel sy al ‘n paar maal vandag daaraan herinner is. Sy is bly
oor die besoek, die koek wat ons saamgebring het en die aandag wat sy kry, maar
sy vergeet wat die geleentheid is.
Sy het vergeet van die
man met wie sy meer as vyftig jaar getroud was en by wie sy vyf kinders gehad
het. Sy het vergeet van haar kinders en haar kleinkinders. Ek dink nie sy besef
regtig wie ek is totdat ek haar ‘Ma’ noem nie.
My ma het haar lewe
vergeet.
Ek is onlangs gevra om ‘n kort
skets te skryf van my ma se aanpassing by die lewe in ‘n tehuis vir
bejaardesorg. Die antwoord is dat ek geen idee het van hoe sy daaroor voel nie
en of sy wel aanpas nie. Ek dink nie ek het ooit my ma werklik geken nie, ten
spyte van die feit dat ek en sy al drie en sestig jaar lank moeder en dogter
is.
Ek het vanoggend
hierdie blog begin in die hoop dat, as ek neerskryf wat ek van haar weet en
onthou, ek sal leer om haar te verstaan en dalk sin te maak van hierdie vrou
wat so ‘n groot invloed oor my lewe uitgeoefen het. Dalk ken ek my ma beter as
wat ek dink. Dalk ken ek haar glad nie.
So, wat was die sin van
hierdie lang lewe wat miskien nie altyd so ‘geseënd’ was of is nie? Waar het
hierdie lewe begin en hoe het dit verloop?
Die probleem is dat
daar nie regtig vriende of familie oor is wat ek kan uitvra nie; haar vriende
en tydgenote het sy almal oorleef en ek dink nie ek het ooit regtig my familie
geken nie. My ouers is getroud toe my ma drie en twintig jaar oud was. My pa
was toe reeds veertig en het ses dogters uit ‘n vorige huwelik gehad. Op haar
troufoto lyk sy na ‘n aantreklike, goedversorgde en selfversekerde jong vrou,
maar sy moes òf baie braaf gewees het òf baie lief vir die man wat sewentien
jaar ouer as sy was. Uit hulle huwelik is nog vyf kinders gebore, drie seuns en
daarna ‘n dogtertjie wat dood is enkele dae na geboorte; ek, die jongste en ‘n
laatlam, is gebore toe sy reeds drie en dertig en my pa vyftig jaar oud was. My
grootouers aan beide kante is oorlede voor my geboorte of binne enkele jare
daarna.
My pa se oudste dogters
uit sy eerste huwelik het al gesinne van hulle eie gehad voordat ek gebore is.
Mense het destyds nie veel gereis nie en die grootste deel van ons familie het
baie ver weg gewoon. Die eerste keer waarvan ek kan onthou dat ons by een van
my halfsusters gaan kuier het, het ek haar Tannie genoem, tot almal se
aanvanklike vermaak, wat later omgesit het in irritasie met ‘n ‘koppige’ kind.
Ek kon doodeenvoudig, op agtjarige leeftyd, nie die spreekwoordelike kloutjie
by die oor kry en inneem dat die tannie my suster is nie. My broers, van wie
die jongste vyf jaar ouer as ek was, was besig met hulle eie belangstellings en
het nie veel erg gehad aan ‘n kleiner sussie nie.
As kind het ek myself besig
en uit die pad van die grootmense gehou. Gelukkig was ek lief vir lees en
tydverdrywe wat ek alleen kon beoefen. Van my familie se verlede, hulle
lewenswyse en geskiedenis het ek dus bra min kennis geneem. Dit het later
geblyk dat my familie my beskou het as ‘kop-in-die bos’, iets wat my nou laat
lag, want in myself gekeer is ek beslis nie. Dis net dat ek, met die fyn
aanvoeling van ‘n kind, vroeg reeds besef het daar daar onderstrominge en
gevoelens in my familie was wat ek liewer met rus moes laat.
My pa is reeds jare in
sy graf en daar is min of geen kommunikasie tussen my en my oorlewende broers
en susters nie. Dit wat ek van my ma en die res van die familie onthou is
ietwat onsamehangend en nie altyd vleiend nie.
Dus sit ek vandag en
kyk na die vreemd klein en uitgeteerde lyfie, die verrimpelde vel en
kromgetrekte vingers. Sy praat nie meer veel nie, sit net voor haar en uitstaar
met oë wat nog steeds blouselblou is. Haar gedagtes dwaal en haar herinneringe
is vlietend. Dan onthou ek die mooi vrou wat sy voorheen was en die vele
fasette van haar persoonlikheid wat ek nooit deurgrond en leer ken het nie. En
ek wonder wie hierdie vrou is wat my ma was.
My ma laat haar nie
sommer ken nie nie en ons het nooit regtig oor die weg gekom nie. Waar het
alles dan so skeef geloop het en wat kon ons anders gedoen het om so ‘n
wanverhouding te voorkom? Die tyd vir herstel het nou uitgeloop. Al wat ek kan
doen is om te probeer onthou en verstaan. Ek moet probeer, ter wille van my eie
sieleheil.Labels: bejaarde, bejaardesorg, dementia, frail care, old age, ouetehuis

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home