Egiptiese Grafsalf
Die wiel van die lewe
draai nie net nie, soms spin hy buite
beheer.
My ma het by ons gesin
ingetrek toe sy sewe en tagtig jaar oud was en ons lewe is sonder meer in ‘n
nuwe wentelbaan gegooi. Ek was agtien jaar oud toe ek en my ma laas in
dieselfde huis gewoon het en dit was baie dekades gelede. Die aanpassing was,
vir albei van ons, heelwat moeiliker as wat ons verwag het. Tog was daar ook,
behalwe die frustrasie wat geskaaf het, humor in ‘n situasie waarvan ons
doodeenvoudig die beste moes maak, kom wat wil.
My ma se fisiese
gesondheid was altyd besonder goed. Selfs nou, op ‘n baie gevorderde ouderdom,
is haar gestel nog sterk. Sy kan nog loop, haar eie bed opmaak en haarself
aantrek. Dis net die gedagtes wat soms deurmekaar raak.
Haar emosionele welstand
was van altyd af heelwat meer wankelmoedig. Sy was senuweeagtig van geaardheid
en voortdurend vas oortuig daarvan dat sy aan die een of ander terminale siekte
ly. Ek onthou, selfs uit my kinderdae, in watter mate sy haarself ander mense
se siektes aangetrek en haar eie probeer maak het.
So het sy, na die onverwagte
afsterwe van ‘n huisvriend as gevolg van ‘n brein-aneurisme, my pa met groot
erns probeer oortuig daarvan dat haar erge hoofpyne te wyte was aan gewasse op
die brein. My pa, nooit ‘n baie simpatieke persoon nie, wou onmiddellik weet
hoekom die gewasse net eenkeer per maand groei? As jong kind het ek nie die
verwysing verstaan nie en sou ook nie durf vra nie, maar ek onthou wel dat sy
baie vies was omdat hy haar gewaande siektes afgemaak het as ipekonders.
Toe my broer oorlede is
na ‘n lang en pynlike lyding aan kolonkanker, was my ma skielik oortuig daarvan
dat sy ook ‘n soortgelyke probleem het. Sonder enige vooraf geskiedenis van
maagsiektes, het sy nou ‘allergies’ geword vir allerhande kossoorte. My ma was
haar hele lewe lank ‘n vrou met ‘n gesonde eetlus en, hoewel sy nooit juis
oorgewig was nie, het sy tog ordentlike kurwes gehad. Sy kon net so lekker soos
enige ander lid van die gesin weglê aan ‘n gebraaide tjoppie, ‘n lekker
yskastert of ‘n bord gekookte kos. Nou het sy skielik begin om ‘n streng dieet
te volg en het baie gewig verloor.
Destyds, na my pa en
broer se afsterwe, het sy in Durban loseer by ‘n jarelange vriendin, ook ‘n
weduwee, wat voorheen alleen gewoon het. Ons woon in Johannesburg en my ma wou
nie afstand doen van die lewe en vriende waaraan sy gewoond was nie. Soos die
lewe maar verloop, was ons persoonlike kontak taamlik sporadies, beperk tot
vakansies en ‘n naweek hier en daar. Ons was dus nie baie betrokke by haar daaglikse
versorging nie en aangesien haar mediese ondersoeke geen teken van ernstige
siektes aangedui het nie, het ek maar aanvaar dat die ipekonders weer kop
uitgesteek het.
Sy het by ons kom
inwoon nadat die vriendin by wie sy loseer het, gediagnoseer is met leukemia.
Op haar ouderdom is dit nie maklik om verblyf in ‘n aftree-oord te kry nie en
daar was niemand anders wat na haar kon omsien nie. Ons moes mooi meet en pas
om ‘n familie van vyf grootmense in ons drieslaapkamer huis te laat inpas.
Boonop het ek en ons twee volwasse kinders voltyds gewerk, terwyl my man
omgesien het na die huishouding met behulp van Emily, ons huiswerker.
My ma was steeds onder
die indruk dat haar gesondheid swak was en sy het aangedring op spesiale
versorging. Sy het geweier om enigiets te eet behalwe hawermoutpap vir ontbyt,
opgekookte groentes saam met ‘n stukkie hoendervleis waarvan die vel verwyder
moes word vir middagete en droë beskuitjies of brood vir aandete. Enigiets
anders was te ‘ryk’ vir haar gestel.
Ons was ook verslae oor
die verskeidenheid van medikasies wat sy gebruik het en die verskillende
boererate wat sy uitgetoets het: pynpilletjies vir enige pyn, kalsium om te
verhoed dat haar beendere verkalk, ‘n gemmermengsel vir haar voortdurende maagongesteldheid,
vrugtesout vir die sooibrand, suiglekkertjies vir die seer keel en allerhande
soorte kruiemengsels wat bekendes haar aangeraai het om goeie gesondheid te verseker. Die kruieblare,
-stokkies en -sade het sy in ‘n kastrolletjie op die stoof gekook en getrek
soos ‘n tee, sodat die hele kombuis later geruik het na ‘n apteek.
Sy het geweier om haar
kamer se deur of vensters oop te laat, omdat haar keel en haar ore sou ontsteek
as daar net ‘n luggie trek. Sy het pal haar ore toegestop met watte om te keer
dat die oordruppels uitloop en die wind inkom. By die geringste teken van ‘n
verkoue het sy by voorbaat begin lekkertjies suig en haar keel gegorrel met ‘n
antiseptiese ontsmettingsmiddel. Boonop het sy ‘n mengsel van salwe en room
aangesmeer vir die gewrigspyn, droë vel, muskietbyte en enigiets anders wat sy
kon waarneem. Die verskillende soorte medikasie het, soos voorspel kon word,
haar reeds ‘sensitiewe’ maag aangetas, met die gevolg dat sy gedurig aan diaree
gely het. Boonop het Emily begin kla dat Ou Mevrou nie gereeld wil bad nie,
iets wat blykbaar algemeen is onder bejaardes wat ‘n baie hoë ouderdom bereik.
As gevolg van die reuke
wat daaraan gekleef het, is haar wasgoed apart van die res van die gesin se
klere gewas. Sy het dit gou genoeg opgelet en daarop aangedring om haar eie
onderklere in die kamer in ‘n skottel te was. Haar sig was reeds nie meer goed
nie en die klere is half vuil opgehang aan haar bed se style.
Die skerp reuke van die
salwe, olies en spoelmiddels het veroorsaak dat my man begin mor het oor die
walms van wat hy die ‘Egiptiese Grafsalf’ gedoop het en wat sy sinusse aangetas
het. Die hele huis het geruik na medikasie, ontsmettingsmiddels en muwwe
wasgoed. Enige poging van ons kant af om die inname en gebruik van hierdie
medisinale remedies te beperk, is begroet met ‘n vloermoer van so ‘n aard dat
ons baie vinnig opgegee het.
Na my ma se intrek in
die ouetehuis op negentigjarige leeftyd, het dit ons ‘n hele rukkie geneem om
ontslae te raak van die reuke in die huis. Ons het almal ‘n sug van verligting
gegee toe die huis uiteindelik weer skoon en vars geruik het. Die verligting
was egter van korte duur.
My man het weer begin
sukkel met ‘n pynlike ou rugbesering wat ook vreeslike krampe in sy bene
veroorsaak het. Die enigste verligting vir die krampe was om dit in te smeer
met (onwelriekende) salf wat die dokter voorgeskryf het. Beide ek en my man het
maagprobleme ondervind, hy as gevolg van medikasie wat vir hom voorgeskryf is
vir rug- en spierpyn en ek as gevolg van ‘n ou maagseer wat so deur die jare weer
opgevlam het.
Toe my dogter ook ‘n
rukkie terug begin kla het van mangelontsteking en seer ore, wat ons gedokter
het met oordruppels en watteballetjies, het ons almal maar net verleë gegrinnik
oor die terugkeer van die ‘Egiptiese Grafsalf’ en die botteltjies pille en
medisyne wat so stil-stil weer hulle intrek in ons huis geneem het.
Ja, die wiel draai.Labels: bejaarde, bejaardesorg, old age, ouetehuis

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home