Ouma het ge-OD
Ek het nie my ma 'weggegooi' nie; sy woon in 'n ouetehuis vir
haar eie veiligheid. Nou hoekom kry ek dit reg om nog steeds skuldig te laat
voel hieroor?
My ma se gewoonte om
medikasie te neem vir enige skeet of kwaal, saam met haar ongebalanseerde
eetwyse, het haar gesondheid begin knou. Sy het ‘n obsessie ontwikkel met
pille, strope en smeersalwe, tot so ‘n mate dat sy later ‘n plastiek
gereedskapskissie met verskillende soorte pille in haar kamer aangehou het. Sy
het elke liewe pil uit die verpakking gehaal en in die verskillende vakkies
geplaas, saam met die voubiljette wat voorsien word. Dan het sy ure lank die
pille gesorteer, ‘n knipper gebruik om hulle te halveer en herhaaldelik
’reggepak’.
Dit was nogal ‘n mooi
kleurvolle spul, maar tot niemand se groot verbasing nie, het die pille se
voubiljette en daarmee saam hulle doel en die dosis-aanwysings deurmekaar
geraak. Sy het botweg geweier dat die pille weggeneem word uit haar kamer, maar
het op my aandrang ingestem om neer te skryf presies wat sy gedrink het, watter
hoeveelheid en vir watter kwaal. Ek moes vir hierdie doel ‘n klein A-grootte
witbord aankoop (wat sy terstond begin gebruik het as ‘n fotoraam).
Elke poging wat ek
aangewend het om met haar hieroor te praat, het op ‘n volskaalse oorlog
uitgeloop. My ma het haar lewe lank in die verskriklikste woedebuie verval as
sy nie haar sin kon kry nie of, volgens haar, te na gekom is. Sy het ook nie
geskroom om lyfstraf toe te dien wanneer een van haar kinders ‘snipperig’ of
‘stout’ was nie. Ek het meermale deurgeloop onder die verestoffer se houtsteel.
Sy was ‘n sterk vrou en sy het met mening geslaan, sonder om in ag te neem waar
die houe geval het, sodat ek menige kere met opgeswelde rooi riwwe op my bene
en arms rondgeloop het. In die laat vyftiger- en vroeë sestiger-jare, in die
gemeenskap waarin ons opgegroei het, is ‘n pak slae beskou as ‘n noodsaaklike
plig wat deur ouers vervul moes word om hulle kinders goed op te voed. Niemand
het ‘n wenkbrou gelig oor ‘n paar rooi hale nie.
Teen die tyd toe ek
sowat sestien of sewentien jaar oud was, het die fisiese tugtiging merendeels tot
‘n einde gekom, hoewel ek ook maar ver weg gebly het van die nat vadoek in haar
hand. Dit was die begin van die emosionele tugtiging, die lang stiltes
waartydens sy my totaal geïgnoreer het vir ‘n paar dae of langer, of tenminste
totdat ek ‘tot inkeer gekom het’ oor my gewaande verkeerde optrede.
Aan die anderkant kon
sy ook baie liefdevol wees wanneer ek presies opgetree volgens haar
voorskrifte. Toe ek jonger was, sou sy byvoorbeeld vir my pragtige popklere
maak, liedjies sing, bybelstories vertel en die radio aanskakel vir die
Siembamba uitsending elfuur op weeksoggende. Sy was ‘n goeie moeder, maar nie
maklik om lief te hê nie.
Hierdie streng
dissipline wat in my ingedril is in my kinderjare het in my ma se guns gewerk
het tot lank nadat ek reeds ‘n ma van my eie kinders was; sy kon my steeds laat
voel asof ek ‘n stout kind is wat ‘n paar klappe nodig het. Sy het my,
inderwaarheid, terwyl sy by ons ingewoon het, so elke nou en dan ‘n oorveeg
belowe vir my ‘snipperigheid’. By geleentheid het sy my weggejaag uit haar
slaapkamer en eenkeer het sy selfs probeer om my my eie huis te verbied! Hoewel
ek toe reeds in my vyftigerjare was, was my eerste instink altyd om in haar
goeie boeke te bly.
My man het nie sulke
bedenkinge gehad nie en sy intrede het meermale my ma in trane gehad. Dit het
baie gou duidelik geword ons huislike lewe besig was om op ‘n krisis af te
stuur. Ek en beide my kinders het in die stad gewerk en elke dag meer as ‘n
honderd kilometer heen en weer gery in Johannesburg se swaar verkeersvloei. Dit
was senutergend om in die aand by die huis te kom net om ‘n woedende man, ‘n ongelukkige
huiswerker en ‘n huilende moeder teë te kom. Ek het nie eens kans gehad om my
handsak neer te sit en dalk ‘n draai by die toilet te maak voordat ek reeds
vasgeval was in ‘n hewige stortvloed van verwyte, beskuldigings en argumente
nie. Andersins het sy haar kamerdeur gesluit en vir twee of drie dae geweier om
met enigiemand te praat of haar kos te eet.
Hierdie episodes is,
sonder uitsondering, altyd afgesluit met die aankondiging dat my ma nie goed
voel nie of ‘n nuwe skeet ontwikkel het as gevolg van die feit dat sy
‘verwaarloos’ word wanneer ek gewerk het. Dit het ‘n paar keer gebeur dat ek
haar in die aand na werk moes neem om ‘n dokter te sien, net om ‘n bietjie
kalmte in die ontstuimige huishouding te verkry.
Niks van bogenoemde
dien as ‘n verskoning vir die feit dat my ma besig was met oordosering van
medikasie en ek toegelaat het dat so ‘n situasie ontwikkel nie; ek moes toe
reeds besef het dat ek nie die verantwoordelikheid vir haar eie welsyn aan my
ma kon oorlaat nie. Toe ek een Vrydag aand by die huis ingestap het na ‘n lang
dag by die werk en vir die soveelste keer moes hoor dat my ma ‘nie goed voel’
nie, het ek bloot verbygeloop na my slaapkamer toe en in die bed gaan klim,
sonder om uit te vra. Die volgende oggend het ek haar teëgekom in die gang en
opgelet dat daar onder haar een oog ‘n bloederige sak was. Ek het haar
onmiddellik na die privaatkliniek toe geneem waar die dokter bepaal het dat
haar bloeddruk geweldig hoog is en omdat hy gevrees het vir beroerte, moes ek
haar in die kliniek laat opneem.
Dit was ‘n traumatiese
gebeurtenis in my lewe waaroor ek nou nog skuldig voel. Tog kon ek nie help om
te lag nie toe my dogter ewe ernstig die Maandagoggend vir ons huiswerker
verduidelik het ‘Ouma het ge-OD’ oor die naweek en is in die hospitaal.
Dit was die laaste
strooi vir my. Die dokter, by wie ek ook reeds geruime tyd onder behandeling
was vir hoë bloeddruk, het my huislike omstandighede geken en sonder om te
skroon, reëlings getref dat my ma in die ouetehuis opgeneem word waar sy onder
24-uur ‘n dag toesig sou wees.Labels: bejaarde, bejaardesorg, old age, ouetehuis

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home