14 Nov 2014

My ma leef in 'n boksie

My ma is ‘n packrat, ‘n hoarder, ‘n hamsteraar. Sy versamel nie ‘n spesifieke soort item van waarde, sentimenteel, esteties of andersins nie, sy ‘bêre’ alles wat sy in die hande kan kry soos wat ‘n hamster kos in sy kieste prop.
Leë garetolletjies word gebêre, ou tandeborsels, teekoppies sonder ore, leë bottels wat voorheen sjampoe of lyfroom of poeier bevat het, leë pilhouers, ou kouse wat jare terug al geleer het, klere wat sy nooit weer gaan dra nie, stukkies tou om ‘n kartonnetjie gedraai, gebruikte geskenkpapier, kiekies van mense wat sy nooit geken het nie, boeke wat sy nooit gaan lees nie, gebruikte servette, penne waarvan die ink toentertyd al opgedroog het, gebreekte potlode … as dit rondlê, bêre sy dit. Dis haar kleinnode en niemand mag daaraan raak nie.
Dis nie asof sy dit bêre as ‘n herinnering aan ‘n besondere gebeurtenis of persoon nie. Dis net, sy is altyd bang dat sy dit dalk weer gaan nodig kry.
Sy bêre dit behoorlik, nie net sommer los in ‘n laai gegooi of op ‘n rak nie, nee, elke item word toegedraai in papier of ‘n tafelservet, in ‘n plastieksakkie gesit en dan in ‘n boksie gedruk, voordat dit netjies in ‘n laai gepak word. Vir hierdie doel versamel sy sakkies en boksies ook; plastieksakkies waarin haar nuwe kouse verpak was, sellofaanpapier wat om tandepaste-boksies en sigaretboksies gedraai was en natuurlik die boksies self. Alles eindig op in ‘n boksie.
Die boksies, met hulle inhoud, word toegedraai in waslappies, handdoeke, kussingslope en ou sokkies voordat hulle onder ‘n hoop ou tydskrifte versteek word onder in die kas.
Hierdie is nie ‘n nuwe ding nie. By ons aan huis het sy altyd die leë roomyshouers, plastiekbakkies waarin groente of vrugte verpak was, skoendose en ‘n verskeidenheid van emmertjies, plastieksakke en wat nog alles, kamer toe gedra. Haar slaapkamer, van redelike grootte, was toegepak met al haar gebruiksartikels wat sy as broodnodig beskou het.
Voeg daarby dat sy ook nie ontslae sou raak van ‘n gebreekte artikel nie. Sy het elke maand op haar winkellysie aangedui dat sy gom, sellotape, tou, rekkies, papier, haakspelde, wol, lapgoed en nog wat benodig het. Dit alles het sy glo gebruik vir haar scrapbooks en flower presses, brei-en naaldwerk, alles tydverdrywe wat ek aangemoedig het om haar besig te hou.
Dan was daar die eetgoed wat sy in haar kaste gebêre het; koekies, beskuitjies, graankosse, vrugte, botteltjies koeldrank en lekkergoed. Sy wou niks in my kombuiskaste of yskas bêre nie. Ek het daarop aangedring dat al hierdie eetgoed in lugdigte houers verpak word en dat sy haar vars vrugte in die bak op haar laaikas hou, sodat ek kon toesien dat hulle vars bly. Min het ek geweet dat sy die appels afskil en dan die skille ‘bêre’ om dit te laat droog word … ?
Toe het sy begin om water in ‘n bottel kamer toe te vat, ingeval sy dors word deur die nag. Toevallig het my man eendag opgemerk dat daar omtrent ses bottels vol water in die venstersbank staan, in vol son. Die water was groen en slymerig. My ma het hierdie water in die nag gebruik om haar hordes pille te drink en Hollandse medisyne aan te maak!
Emily, ons huishulp, is nie toegelaat om my ma se kamer skoon te maak nie. Sy het gerapporteer dat Mevrou die hele dag lank besig was om goed in haar kaste reg te pak en te verskuif, en dat sy nie toegelaat word aan enigiets te raak nie. My ma het daarop aangedring om self haar bed op te maak met haar eie beddegoed.
Met haar trek na die ouetehuis toe, het sy daarop aangedring om self haar goed te pak en ek het haar gelos, want ek het geweet dat enige inmenging ‘n volskaalse oorlog sou veroorsaak. In die ouetehuis is ‘n beperkte aantal enkelkamers, maar gewoonlik deel die inwoners groot, ruim slaapkamers. Daar is ‘n ingeboude klerekas en ek het vir my ma ‘n nuwe laaikas laat maak om langs haar bed te plaas.
My ma het deur die jare baie klere vir haarself gemaak en nooit ontslae geraak van enige kledingstuk nie. Ek het vir haar vooraf verduidelik dat daar vir haar ‘n hangkas en ‘n laaikas beskikbaar sou wees, maar dat sy haar klere wat sy nie gedurende die komende seisoen sou gebruik nie, in haar slaapkamer by my huis moes agterlaat. Aangesien ons baie naby die ouetehuis woon en sy in elk geval elke naweek sou kom kuier, kon sy haar klere ruil soos wat dit haar gepas het.
Met ons aankoms by die ouetehuis het ek egter besef dat sy alles wat sy besit ingepak het, tot die laaste paar afgeloopte pantoffels wat sy al vir baie jare nie meer gedra het nie. Onder die voorwendsel dat ek vir haar die fasiliteite en die tuin wou wys, het ek haar uit die kamer geneem en buite gehou totdat my dogter en een van die saalsusters alles uitsorteer het. Die oortollige en onnodige artikels het hulle teruggesmokkel na die motor toe en die res mooi netjies in haar laaie gepak. Die ouetehuis is net agter ‘n groot kettingwinkel en my dogter het heen en weer gehardloop om ordentlike houers te koop vir die kleinighede, wat alles netjies ingepak is. Agterna het my dogter my vertel van die ‘onwettige’ medikasies waarvan hulle ontslae geraak het, pakkies ontbytgraan wat reeds oopgemaak was en, tot my verbystering, twee pakke bitter oue aartappelskyfies, iets waaraan my ma nooit haar mond gesit het nie. Die ouethuis personeel was nie halfpad so uIt die veld geslaan soos ons nie. Blykbaar is hierdie soort gedrag algemeen onder bejaardes.
Sou dit dan ‘n manier wees om nog ‘n mate van kontrole uit te oefen oor haar lewe? Ek dink so. Sy was jare lank gewoond aan ‘n groot huis en huishouding van haar eie. Nou het haar huishouding bestaan uit ‘n gedeelde slaapkamer en twee kaste waarin sy haar besittinkies kon bêre. Wat ‘n aanpassing moet dit nie vir enige persoon wees as sy of haar wêreldjie so krimp nie?

Labels: , , ,

Ouma het ge-OD

Ek het nie my ma 'weggegooi' nie; sy woon in 'n ouetehuis vir haar eie veiligheid. Nou hoekom kry ek dit reg om nog steeds skuldig te laat voel hieroor?
My ma se gewoonte om medikasie te neem vir enige skeet of kwaal, saam met haar ongebalanseerde eetwyse, het haar gesondheid begin knou. Sy het ‘n obsessie ontwikkel met pille, strope en smeersalwe, tot so ‘n mate dat sy later ‘n plastiek gereedskapskissie met verskillende soorte pille in haar kamer aangehou het. Sy het elke liewe pil uit die verpakking gehaal en in die verskillende vakkies geplaas, saam met die voubiljette wat voorsien word. Dan het sy ure lank die pille gesorteer, ‘n knipper gebruik om hulle te halveer en herhaaldelik ’reggepak’.
Dit was nogal ‘n mooi kleurvolle spul, maar tot niemand se groot verbasing nie, het die pille se voubiljette en daarmee saam hulle doel en die dosis-aanwysings deurmekaar geraak. Sy het botweg geweier dat die pille weggeneem word uit haar kamer, maar het op my aandrang ingestem om neer te skryf presies wat sy gedrink het, watter hoeveelheid en vir watter kwaal. Ek moes vir hierdie doel ‘n klein A-grootte witbord aankoop (wat sy terstond begin gebruik het as ‘n fotoraam).
Elke poging wat ek aangewend het om met haar hieroor te praat, het op ‘n volskaalse oorlog uitgeloop. My ma het haar lewe lank in die verskriklikste woedebuie verval as sy nie haar sin kon kry nie of, volgens haar, te na gekom is. Sy het ook nie geskroom om lyfstraf toe te dien wanneer een van haar kinders ‘snipperig’ of ‘stout’ was nie. Ek het meermale deurgeloop onder die verestoffer se houtsteel. Sy was ‘n sterk vrou en sy het met mening geslaan, sonder om in ag te neem waar die houe geval het, sodat ek menige kere met opgeswelde rooi riwwe op my bene en arms rondgeloop het. In die laat vyftiger- en vroeë sestiger-jare, in die gemeenskap waarin ons opgegroei het, is ‘n pak slae beskou as ‘n noodsaaklike plig wat deur ouers vervul moes word om hulle kinders goed op te voed. Niemand het ‘n wenkbrou gelig oor ‘n paar rooi hale nie.
Teen die tyd toe ek sowat sestien of sewentien jaar oud was, het die fisiese tugtiging merendeels tot ‘n einde gekom, hoewel ek ook maar ver weg gebly het van die nat vadoek in haar hand. Dit was die begin van die emosionele tugtiging, die lang stiltes waartydens sy my totaal geïgnoreer het vir ‘n paar dae of langer, of tenminste totdat ek ‘tot inkeer gekom het’ oor my gewaande verkeerde optrede.
Aan die anderkant kon sy ook baie liefdevol wees wanneer ek presies opgetree volgens haar voorskrifte. Toe ek jonger was, sou sy byvoorbeeld vir my pragtige popklere maak, liedjies sing, bybelstories vertel en die radio aanskakel vir die Siembamba uitsending elfuur op weeksoggende. Sy was ‘n goeie moeder, maar nie maklik om lief te hê nie.
Hierdie streng dissipline wat in my ingedril is in my kinderjare het in my ma se guns gewerk het tot lank nadat ek reeds ‘n ma van my eie kinders was; sy kon my steeds laat voel asof ek ‘n stout kind is wat ‘n paar klappe nodig het. Sy het my, inderwaarheid, terwyl sy by ons ingewoon het, so elke nou en dan ‘n oorveeg belowe vir my ‘snipperigheid’. By geleentheid het sy my weggejaag uit haar slaapkamer en eenkeer het sy selfs probeer om my my eie huis te verbied! Hoewel ek toe reeds in my vyftigerjare was, was my eerste instink altyd om in haar goeie boeke te bly.
My man het nie sulke bedenkinge gehad nie en sy intrede het meermale my ma in trane gehad. Dit het baie gou duidelik geword ons huislike lewe besig was om op ‘n krisis af te stuur. Ek en beide my kinders het in die stad gewerk en elke dag meer as ‘n honderd kilometer heen en weer gery in Johannesburg se swaar verkeersvloei. Dit was senutergend om in die aand by die huis te kom net om ‘n woedende man, ‘n ongelukkige huiswerker en ‘n huilende moeder teë te kom. Ek het nie eens kans gehad om my handsak neer te sit en dalk ‘n draai by die toilet te maak voordat ek reeds vasgeval was in ‘n hewige stortvloed van verwyte, beskuldigings en argumente nie. Andersins het sy haar kamerdeur gesluit en vir twee of drie dae geweier om met enigiemand te praat of haar kos te eet.
Hierdie episodes is, sonder uitsondering, altyd afgesluit met die aankondiging dat my ma nie goed voel nie of ‘n nuwe skeet ontwikkel het as gevolg van die feit dat sy ‘verwaarloos’ word wanneer ek gewerk het. Dit het ‘n paar keer gebeur dat ek haar in die aand na werk moes neem om ‘n dokter te sien, net om ‘n bietjie kalmte in die ontstuimige huishouding te verkry.
Niks van bogenoemde dien as ‘n verskoning vir die feit dat my ma besig was met oordosering van medikasie en ek toegelaat het dat so ‘n situasie ontwikkel nie; ek moes toe reeds besef het dat ek nie die verantwoordelikheid vir haar eie welsyn aan my ma kon oorlaat nie. Toe ek een Vrydag aand by die huis ingestap het na ‘n lang dag by die werk en vir die soveelste keer moes hoor dat my ma ‘nie goed voel’ nie, het ek bloot verbygeloop na my slaapkamer toe en in die bed gaan klim, sonder om uit te vra. Die volgende oggend het ek haar teëgekom in die gang en opgelet dat daar onder haar een oog ‘n bloederige sak was. Ek het haar onmiddellik na die privaatkliniek toe geneem waar die dokter bepaal het dat haar bloeddruk geweldig hoog is en omdat hy gevrees het vir beroerte, moes ek haar in die kliniek laat opneem.
Dit was ‘n traumatiese gebeurtenis in my lewe waaroor ek nou nog skuldig voel. Tog kon ek nie help om te lag nie toe my dogter ewe ernstig die Maandagoggend vir ons huiswerker verduidelik het ‘Ouma het ge-OD’ oor die naweek en is in die hospitaal.
Dit was die laaste strooi vir my. Die dokter, by wie ek ook reeds geruime tyd onder behandeling was vir hoë bloeddruk, het my huislike omstandighede geken en sonder om te skroon, reëlings getref dat my ma in die ouetehuis opgeneem word waar sy onder 24-uur ‘n dag toesig sou wees.

Labels: , , ,

Egiptiese Grafsalf

Die wiel van die lewe draai nie net nie, soms spin hy buite beheer.
My ma het by ons gesin ingetrek toe sy sewe en tagtig jaar oud was en ons lewe is sonder meer in ‘n nuwe wentelbaan gegooi. Ek was agtien jaar oud toe ek en my ma laas in dieselfde huis gewoon het en dit was baie dekades gelede. Die aanpassing was, vir albei van ons, heelwat moeiliker as wat ons verwag het. Tog was daar ook, behalwe die frustrasie wat geskaaf het, humor in ‘n situasie waarvan ons doodeenvoudig die beste moes maak, kom wat wil.
My ma se fisiese gesondheid was altyd besonder goed. Selfs nou, op ‘n baie gevorderde ouderdom, is haar gestel nog sterk. Sy kan nog loop, haar eie bed opmaak en haarself aantrek. Dis net die gedagtes wat soms deurmekaar raak.
Haar emosionele welstand was van altyd af heelwat meer wankelmoedig. Sy was senuweeagtig van geaardheid en voortdurend vas oortuig daarvan dat sy aan die een of ander terminale siekte ly. Ek onthou, selfs uit my kinderdae, in watter mate sy haarself ander mense se siektes aangetrek en haar eie probeer maak het.
So het sy, na die onverwagte afsterwe van ‘n huisvriend as gevolg van ‘n brein-aneurisme, my pa met groot erns probeer oortuig daarvan dat haar erge hoofpyne te wyte was aan gewasse op die brein. My pa, nooit ‘n baie simpatieke persoon nie, wou onmiddellik weet hoekom die gewasse net eenkeer per maand groei? As jong kind het ek nie die verwysing verstaan nie en sou ook nie durf vra nie, maar ek onthou wel dat sy baie vies was omdat hy haar gewaande siektes afgemaak het as ipekonders.
Toe my broer oorlede is na ‘n lang en pynlike lyding aan kolonkanker, was my ma skielik oortuig daarvan dat sy ook ‘n soortgelyke probleem het. Sonder enige vooraf geskiedenis van maagsiektes, het sy nou ‘allergies’ geword vir allerhande kossoorte. My ma was haar hele lewe lank ‘n vrou met ‘n gesonde eetlus en, hoewel sy nooit juis oorgewig was nie, het sy tog ordentlike kurwes gehad. Sy kon net so lekker soos enige ander lid van die gesin weglê aan ‘n gebraaide tjoppie, ‘n lekker yskastert of ‘n bord gekookte kos. Nou het sy skielik begin om ‘n streng dieet te volg en het baie gewig verloor.
Destyds, na my pa en broer se afsterwe, het sy in Durban loseer by ‘n jarelange vriendin, ook ‘n weduwee, wat voorheen alleen gewoon het. Ons woon in Johannesburg en my ma wou nie afstand doen van die lewe en vriende waaraan sy gewoond was nie. Soos die lewe maar verloop, was ons persoonlike kontak taamlik sporadies, beperk tot vakansies en ‘n naweek hier en daar. Ons was dus nie baie betrokke by haar daaglikse versorging nie en aangesien haar mediese ondersoeke geen teken van ernstige siektes aangedui het nie, het ek maar aanvaar dat die ipekonders weer kop uitgesteek het.
Sy het by ons kom inwoon nadat die vriendin by wie sy loseer het, gediagnoseer is met leukemia. Op haar ouderdom is dit nie maklik om verblyf in ‘n aftree-oord te kry nie en daar was niemand anders wat na haar kon omsien nie. Ons moes mooi meet en pas om ‘n familie van vyf grootmense in ons drieslaapkamer huis te laat inpas. Boonop het ek en ons twee volwasse kinders voltyds gewerk, terwyl my man omgesien het na die huishouding met behulp van Emily, ons huiswerker.
My ma was steeds onder die indruk dat haar gesondheid swak was en sy het aangedring op spesiale versorging. Sy het geweier om enigiets te eet behalwe hawermoutpap vir ontbyt, opgekookte groentes saam met ‘n stukkie hoendervleis waarvan die vel verwyder moes word vir middagete en droë beskuitjies of brood vir aandete. Enigiets anders was te ‘ryk’ vir haar gestel.
Ons was ook verslae oor die verskeidenheid van medikasies wat sy gebruik het en die verskillende boererate wat sy uitgetoets het: pynpilletjies vir enige pyn, kalsium om te verhoed dat haar beendere verkalk, ‘n gemmermengsel vir haar voortdurende maagongesteldheid, vrugtesout vir die sooibrand, suiglekkertjies vir die seer keel en allerhande soorte kruiemengsels wat bekendes haar aangeraai het  om goeie gesondheid te verseker. Die kruieblare, -stokkies en -sade het sy in ‘n kastrolletjie op die stoof gekook en getrek soos ‘n tee, sodat die hele kombuis later geruik het na ‘n apteek.
Sy het geweier om haar kamer se deur of vensters oop te laat, omdat haar keel en haar ore sou ontsteek as daar net ‘n luggie trek. Sy het pal haar ore toegestop met watte om te keer dat die oordruppels uitloop en die wind inkom. By die geringste teken van ‘n verkoue het sy by voorbaat begin lekkertjies suig en haar keel gegorrel met ‘n antiseptiese ontsmettingsmiddel. Boonop het sy ‘n mengsel van salwe en room aangesmeer vir die gewrigspyn, droë vel, muskietbyte en enigiets anders wat sy kon waarneem. Die verskillende soorte medikasie het, soos voorspel kon word, haar reeds ‘sensitiewe’ maag aangetas, met die gevolg dat sy gedurig aan diaree gely het. Boonop het Emily begin kla dat Ou Mevrou nie gereeld wil bad nie, iets wat blykbaar algemeen is onder bejaardes wat ‘n baie hoë ouderdom bereik.
As gevolg van die reuke wat daaraan gekleef het, is haar wasgoed apart van die res van die gesin se klere gewas. Sy het dit gou genoeg opgelet en daarop aangedring om haar eie onderklere in die kamer in ‘n skottel te was. Haar sig was reeds nie meer goed nie en die klere is half vuil opgehang aan haar bed se style.
Die skerp reuke van die salwe, olies en spoelmiddels het veroorsaak dat my man begin mor het oor die walms van wat hy die ‘Egiptiese Grafsalf’ gedoop het en wat sy sinusse aangetas het. Die hele huis het geruik na medikasie, ontsmettingsmiddels en muwwe wasgoed. Enige poging van ons kant af om die inname en gebruik van hierdie medisinale remedies te beperk, is begroet met ‘n vloermoer van so ‘n aard dat ons baie vinnig opgegee het.
Na my ma se intrek in die ouetehuis op negentigjarige leeftyd, het dit ons ‘n hele rukkie geneem om ontslae te raak van die reuke in die huis. Ons het almal ‘n sug van verligting gegee toe die huis uiteindelik weer skoon en vars geruik het. Die verligting was egter van korte duur.
My man het weer begin sukkel met ‘n pynlike ou rugbesering wat ook vreeslike krampe in sy bene veroorsaak het. Die enigste verligting vir die krampe was om dit in te smeer met (onwelriekende) salf wat die dokter voorgeskryf het. Beide ek en my man het maagprobleme ondervind, hy as gevolg van medikasie wat vir hom voorgeskryf is vir rug- en spierpyn en ek as gevolg van ‘n ou maagseer wat so deur die jare weer opgevlam het.
Toe my dogter ook ‘n rukkie terug begin kla het van mangelontsteking en seer ore, wat ons gedokter het met oordruppels en watteballetjies, het ons almal maar net verleë gegrinnik oor die terugkeer van die ‘Egiptiese Grafsalf’ en die botteltjies pille en medisyne wat so stil-stil weer hulle intrek in ons huis geneem het.
Ja, die wiel draai.

Labels: , , ,

'n Geseënde Leeftyd

My ma verjaar vandag. Sy is ses en negentig jaar oud.
Verskeie mense het die aanmerking gemaak dat sy geseënd is om so ‘n hoë ouderdom te bereik. Ek antwoord nie op hierdie stelling nie, want hoe bepaal ‘n mens die geseëndheid van ‘n lewe wat reeds lankal verby en meesal vergete is?
My ma weet nie eens dat sy verjaar nie, hoewel sy al ‘n paar maal vandag daaraan herinner is. Sy is bly oor die besoek, die koek wat ons saamgebring het en die aandag wat sy kry, maar sy vergeet wat die geleentheid is.
Sy het vergeet van die man met wie sy meer as vyftig jaar getroud was en by wie sy vyf kinders gehad het. Sy het vergeet van haar kinders en haar kleinkinders. Ek dink nie sy besef regtig wie ek is totdat ek haar ‘Ma’ noem nie.
My ma het haar lewe vergeet.
Ek is onlangs gevra om ‘n kort skets te skryf van my ma se aanpassing by die lewe in ‘n tehuis vir bejaardesorg. Die antwoord is dat ek geen idee het van hoe sy daaroor voel nie en of sy wel aanpas nie. Ek dink nie ek het ooit my ma werklik geken nie, ten spyte van die feit dat ek en sy al drie en sestig jaar lank moeder en dogter is.
Ek het vanoggend hierdie blog begin in die hoop dat, as ek neerskryf wat ek van haar weet en onthou, ek sal leer om haar te verstaan en dalk sin te maak van hierdie vrou wat so ‘n groot invloed oor my lewe uitgeoefen het. Dalk ken ek my ma beter as wat ek dink. Dalk ken ek haar glad nie.
So, wat was die sin van hierdie lang lewe wat miskien nie altyd so ‘geseënd’ was of is nie? Waar het hierdie lewe begin en hoe het dit verloop?
Die probleem is dat daar nie regtig vriende of familie oor is wat ek kan uitvra nie; haar vriende en tydgenote het sy almal oorleef en ek dink nie ek het ooit regtig my familie geken nie. My ouers is getroud toe my ma drie en twintig jaar oud was. My pa was toe reeds veertig en het ses dogters uit ‘n vorige huwelik gehad. Op haar troufoto lyk sy na ‘n aantreklike, goedversorgde en selfversekerde jong vrou, maar sy moes òf baie braaf gewees het òf baie lief vir die man wat sewentien jaar ouer as sy was. Uit hulle huwelik is nog vyf kinders gebore, drie seuns en daarna ‘n dogtertjie wat dood is enkele dae na geboorte; ek, die jongste en ‘n laatlam, is gebore toe sy reeds drie en dertig en my pa vyftig jaar oud was. My grootouers aan beide kante is oorlede voor my geboorte of binne enkele jare daarna.
My pa se oudste dogters uit sy eerste huwelik het al gesinne van hulle eie gehad voordat ek gebore is. Mense het destyds nie veel gereis nie en die grootste deel van ons familie het baie ver weg gewoon. Die eerste keer waarvan ek kan onthou dat ons by een van my halfsusters gaan kuier het, het ek haar Tannie genoem, tot almal se aanvanklike vermaak, wat later omgesit het in irritasie met ‘n ‘koppige’ kind. Ek kon doodeenvoudig, op agtjarige leeftyd, nie die spreekwoordelike kloutjie by die oor kry en inneem dat die tannie my suster is nie. My broers, van wie die jongste vyf jaar ouer as ek was, was besig met hulle eie belangstellings en het nie veel erg gehad aan ‘n kleiner sussie nie.
As kind het ek myself besig en uit die pad van die grootmense gehou. Gelukkig was ek lief vir lees en tydverdrywe wat ek alleen kon beoefen. Van my familie se verlede, hulle lewenswyse en geskiedenis het ek dus bra min kennis geneem. Dit het later geblyk dat my familie my beskou het as ‘kop-in-die bos’, iets wat my nou laat lag, want in myself gekeer is ek beslis nie. Dis net dat ek, met die fyn aanvoeling van ‘n kind, vroeg reeds besef het daar daar onderstrominge en gevoelens in my familie was wat ek liewer met rus moes laat.
My pa is reeds jare in sy graf en daar is min of geen kommunikasie tussen my en my oorlewende broers en susters nie. Dit wat ek van my ma en die res van die familie onthou is ietwat onsamehangend en  nie altyd vleiend nie.
Dus sit ek vandag en kyk na die vreemd klein en uitgeteerde lyfie, die verrimpelde vel en kromgetrekte vingers. Sy praat nie meer veel nie, sit net voor haar en uitstaar met oë wat nog steeds blouselblou is. Haar gedagtes dwaal en haar herinneringe is vlietend. Dan onthou ek die mooi vrou wat sy voorheen was en die vele fasette van haar persoonlikheid wat ek nooit deurgrond en leer ken het nie. En ek wonder wie hierdie vrou is wat my ma was.
My ma laat haar nie sommer ken nie nie en ons het nooit regtig oor die weg gekom nie. Waar het alles dan so skeef geloop het en wat kon ons anders gedoen het om so ‘n wanverhouding te voorkom? Die tyd vir herstel het nou uitgeloop. Al wat ek kan doen is om te probeer onthou en verstaan. Ek moet probeer, ter wille van my eie sieleheil.

Labels: , , , , ,